Diona Prinsloo, tuinboukundige van die Tshwane-munisipaliteit, en Tjaart Venter, tuinboukundige assistant, plant ‘n boom


Rietondalepark het danksy die McCarthy Toyota-halfmarathon sewe inheemse bome ryker geword.

Die bome is op 30 September in die westelike deel van die park geplant.

Dit was vanjaar die 26ste keer wat die halfmarthon gehou is en om iets terug te gee aan die gemeenskap van Rietondale is besluit om met die hulp van die Tshwane-munisipaliteit bome vir die park te koop met opbrengs van die marathon.

Die halfmarathon word deur McCarthy Toyota geborg en deur Magnolia-padhardlopers georganiseer.

Die mense wat op die dag die bome geplant het, is Sias van den Berg, besturende direkteur van MacCarthy Toyota en sy handelaarprinsipale, Hank Bezuidenhout, Magnolia-klub se wedlooporganiseerder, wyksraadslid Hendrik Fourie, Juanita Snyman, voorsitter van die Rietondale-Huiseienaars- en Inwonersvereniging, en personeel van omgewingsbestuur van die munisipaliteit se parke-divisie.

Volgens Willem Otto van die munisipaliteit is twee soorte bome geplant: vier Philenoptera violacea (in Afrikaans bekend as appelblaar en in Engels as apple-leaf of raintree) en drie Combretum molle (in Afrikaans bekend as of velvet leaf willow).

Willem sê die appelblaar is ‘n beskermde boom en vir hom is die stam, blomdrag en sade besonders. Dit is ‘n middelgrootte halfbladwisselende boom wat van September tot November pers blomme met ‘n soet reuk dra.

Die basterrooibos is op sy beurt mooi danksy sy groeivorm, tekstuur en die kleur van sy blare. Dit is ‘n bos of klein, grasieuse, bladwisselende tot immergroen boom wat 3 m tot 13 m hoog word. Dit dra klein blommetjies wat groen-geel of roomkleurig is en ‘n swaar reuk het. Die boom dra geelgroen vrugte wat rooibruin raak soos wat dit droog word.

Bome se omgewingsvoordele:

  • Bied ‘n natuurlike habitat vir verskeie flora and fauna.
  • Beperk oormatige koolstofdioksied en beperk lugbesoedeling.
  • Verbeter lugkwaliteit.
  • Verbeter die visiuele kwaliteit van die landskap en so die kwaliteit van lewe.
  • Verryk biodiversiteit.
  • Voorsien skadu en beheer so somertemperature.
  • Verminder gronderosie deur middel van hul wortelstelsels.
  • Is kleurvol.
  • Verminder geraasbeheer.
  • Verbeter vloedbestuur  want die afloop van water word beperk.
  • Maak mooi lanings in voorstede wat dit lekker maak om daar te woon.

Hank Bezuidenhout van Sportsvendo (heel links) en Sias van den Berg (tweede van links), besturende direkteur van McCarthy Toyota, besig om ‘n boom te plant

Photos: Christine Myburg